Vir die welgestelde sakeman, Adam Swart, kom geloof nie so maklik nie. Dis juis hoekom sy dogter, Lea, en haar ma van hom vervreem is; sy wêreldbeskouing laat geen plek vir wonder nie. Wanneer Lea se ma egter afsterf, gryp Adam die kans om sy verhouding met sy dogter te herbou.
Hulle Wildekus-wegbreek het skaars begin wanneer 'n groep rondswerwende gelowiges reg langs hulle kom laer trek met 'n versameling voos en vodde woonwaens. Kort daarna, onder die wakende oog van hulle jong, imposante leier, begin die luidkeelse gesanik, nagtelike kruisvure en waansinnige seedopery. Dis alles net te veel vir Adam, en sy frustrasies loop oor in 'n ernstige kopstampery met Lea. Die volgende oggend is die woonwaens skoonveld. Sy dogter ook.
Na meer as drie jaar se gesoek gee Adam sy weelderige lewe in die stad prys. Hy moet terug Wildekus toe, hy moet vir Lea gaan vind as hy ooit weer vrede in sy gemoed wil hê. Hier beland hy op die spoor van die Lewende Vlees, 'n sekte swerwers wat tussen die heuwels hulle eie stukkie paradys probeer staanmaak.
Maar elke swerwer het sy storie, en elke paradys sy slang ...