In hierdie heelal, op hierdie aarde, in 'n oninteressante middelklaskompleks woon Sean en Mika. Hulle is albei in matriek. En albei sit sonder vriende vir die wintervakansie.
Sean is 'n geniale ruimtenerd wat tjello speel en planete soek. Hy het sy eie onwettige huiswerkbesigheid. Sy ouers vermy mekaar en hy voel asof niemand hom raaksien nie.
Mika is verslaaf aan rockmusiek en die Griekse mitologie. Sy hou van 'n double vodka oor naweke. Sy dink sy's dom en nie goed genoeg nie. Haar ouers drink en baklei baie.
'n Ongewone sameloop van omstandighede, wat 'n hondeleiband en 'n by behels, veroorsaak dat hulle wêrelde op 'n sonnige wintersoggend bots. En so begin 'n vakansie wat hul lewens onherroeplik verander.
Deur planete, Ferris wheel-ritte en 90's musiek ontdek hulle mekaar en wat dit beteken om werklik na die sterre te kyk.